Politieke party

'n Plakkaat vir die Europese Parlementêre stemming in 2004 in Italië.

'n Politieke party is 'n politieke organisasie wat poog om die regering se beleid te beïnvloed, gewoonlik deur hul eie kandidate daar te stel en te wedywer vir stemme en regeringsposte. Politieke partye neem gewoonlik deel aan verkiesingsveldtogte, opvoedkundige uitreik- en protesaksies en gee sodoende uitdrukking aan die ideologie of visie van die party. Partye vorm ook soms koalisies waartydens hulle saamwerk om 'n gemeenskaplike doelwit te bereik (soos om te verhoed dat 'n groter party 'n meerderheid verkry). 'n Politieke party word gevorm deur mense wat ooreenstem met 'n aantal politieke beginsels[1], hoewel daar min partye is waar alle lede saamstem oor al die beginsels.[2]

Hoewel dit teenswoordig dikwels die geval is, is politieke partye nie 'n voorwaarde vir die funksionering van 'n parlementêre stelsel nie. Waar die parlementariërs voorheen onafhanklik gewerk en verenig het in informele alliansies en verkiesingsverenigings, het daar verskeie groot politieke partye daarna ontstaan. In baie demokratiese lande, waaronder Suid-Afrika, is dit gebruiklik vir persone wat politieke funksies uitvoer om lede te wees van 'n politieke party.[3][4] Maar dit is nie altyd die geval nie. In diktature en eenparty-state het die dominante politieke party 'n ander funksie as in 'n demokrasie, terwyl 'n politieke opposisie gewoonlik ontbreek of ondergronds funksioneer.

  1. Burke, E. (1770) Thoughts on the Cause of the Present Discontent
  2. Ware, A. (1996) Political Parties and Party Systems
  3. Dalton en Wattenberg 2000 Parties without Partisans. Political Change in Advanced Industrial Democracies
  4. Schattschneider, E.E. (1942) Party Government

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search